Terebinte Ondersteuningsgroep
Ons lees in die Bybel van Terebinte-bome. Vandag ken ons dié bome as Terpentynboom. Die immergroen boom het sy naam gekry van die geur van die blare. Wanneer dit liggies gevryf word, gee die blare 'n suurlemoengeur af, maar as dit gebreek word, ruik dit sterk na terpentyn. Die bome kan maklik tot 30 meter hoog groei en is inheems in die Mediterreense streek waar dit bekend is vir sy veeldoeligheid: hout, medisinale waarde en eetbare vrugte.

Terebinte is dus sinoniem met ou, sterk, veeldoelige groot bome met 'n baie diep wortelstelsel.
Ons lees in Jesaja 61:3: hulle sal genoem word: Terebinte van geregtigheid, geplant deur die Here om Hom te verheerlik .
Die Terebinte diensgroep onder leiding van oudl. Hannes Venter ondersteun graag lidmate wat met 'n verskeidenheid probleme worstel. Hierdie ondersteuningsgroep gaan aanvanklik op drie aspekte fokus, naamlik depressie, angsversteuring en verslawing. Depressie en angsversteurings sal saam hanteer word omdat daar soveel wisselwerking tussen die twee toestande is.
Depressie
Depressie is 'n siekte wat jou hele liggaam, gemoedstoestand en denke aantas. Dit affekteer die lyer se eet- en slaappatrone, hoe hulle oor hulleself voel en ook hoe hulle oor die wêreld dink. Die goeie nuus is, dat die regte behandeling, depressie onder beheer kan bring.
Angsversteuring
Angstigheid is 'n normale verskynsel en is deel van die lewe. Matige angstigheid help inderwaarheid dat ons beter funksioneer. Hewige en gereelde angstigheid ly egter tot angsversteuring wat manifesteer in verskeie fisieke, emosionele en verstandelike reaksies. Ekstreme simptome van angstigheid moet met erns beskou word en mediese hulp moet gesoek word.
Die volgende probleme met depressie en angsversteuring kom algemeen voor:
Depressie word dikwels nie gesien as 'n regte siekte nie.
Mense is bang en te skaam om vir hulp te vra omdat hulle dink hulle is swak.
Depressie word nie raakgesien nie.
Angsversteurings manifesteer dikwels as 'n hartaanval. Deurlopende vlakke van angstigheid gee ook aanleiding tot depressie. Daarom word hierdie twee aspekte saam hanteer.
'n Wye verskeidenheid faktore kan depressie veroorsaak bv. werksdruk, finansiële probleme, gesinsprobleme, gesondheidsprobleme en nog vele meer. Indien dit nie behandel word nie, kan dit vir baie lank aanhou en ernstige nagevolge inhou. Dit is egter 'n siektetoestand wat medies gediagnoseer kan word en met medikasie behandel kan word. Hierdie medikasie moet in samewerking met kundige mediese personeel, verkieslik 'n psigiater voorgeskryf word.
Verslawing
Verslawing is wanneer 'n persoon 'n middel inneem (alkohol of dwelms) of deelneem aan 'n genotvolle aktiwiteit waar herhaalde betrokkenheid by die middel of aktiwiteit kompulsief raak en die normale funksionering van die persoon beïnvloed. Dit is 'n breinversteuring wat gekenmerk word deur kompulsiewe betrokkenheid by lonende stimuli ondanks nadelige gevolge.
Moontlike oorsake en of voorbeelde van depressie, angsversteuring en/of verslawing word getoon in die sketse hieronder:

Die Terebinte-ondersteuningsgroep sal met ouderlinge, diakens, die Evangelisasiekommissie, gemeentelede se familie en of vriende, predikante, krisis sentrums, maatskaplike werkers, naburige en klassis gemeentes en ander kerke saamwerk.
Die beplande werkswyse kan die volgende insluit:
Begin met aktualiteitsbespreking en/of toeligting deur 'n deskundige of iemand met persoonlike ervaring.
Die daarstelling van 'n spesifieke belangegroep vanuit die aktualiteitsbespreking met 'n eie fasiliteerder en samekomste.
Een-tot-een-gesprekke.

Wil u graag meer weet of het u dalk ondersteuning nodig van die Terebinte groep? Vul dan onderstaande vormpie in en die groepleier of 'n groeplid sal u spoedig kontak.
