
Die tema van die Pinksterfeesviering verlede Saterdag was "wat dit beteken om deur die Gees te leef". Dit was 'n wonderlike en verrykende byeenkoms. Nadat ds Giepie die verrigtinge geopen het, het hy ds Danie Murray aan die woord gestel en almal het aan sy lippe gehang. Hy het beklemtoon dat alles draai om liefde - liefde tot God en liefde tot jou naaste en dat ons bereid moet wees om ons alles te gee en ons naaste in liefde te dien met ons gawes. Dit is nie maklik en nie altyd lekker nie, maar dit is vervullend want so volg ons Jesus se voorbeeld. Hy het ook uitgewys dat verhoudinge met ons naaste begin in die gesin. Christus se liefde vir sy bruidskerk moet die voorbeeld wees van die man se liefde vir sy vrou en sy kinders.
'n Verdere punt waarop ds Danie klem gelê het is dat ons nie nodig het om sterk te wees nie, want soms gebruik die Here juis ons gebrokenheid om ander mense te bereik. Wanneer ons in swakheid tot God nader, kan die kragtige werking van Sy Gees ons soms verstom.

Na ds Danie klaar gepraat het, het verskeie lede van die Evangelisasiekommissie 'n geleentheid gekry om die gehoor in te lig oor wat tans deur ons gemeente gedoen word in terme van evangelisasie. Ons gemeente se huidige evangelisasie aksies kan in vier groepe opgedeel word, nl:
Evangelisasie in eie omgewing
Evangelisasie in omliggende gebiede
Evangelisasie in die buiteland
Bybelverspreiding
Almal het heerlik gesmul aan aan die verversings wat met teepouse saam met die koffie en tee deur ons diakens aangebied is. Die middagete wat deur lede van die Sosiale Kommissie voorgesit was, was ook sommer uit die boonste rakke. Ons sê graag vir die Diakonie en die Sosiale Kommissie baie dankie.
Na middagete het ds Danie 'n bespreking gefasiliteer oor gedagtes hoe om meer van ons lidmate by evangelisasie te betrek.
Die Pinksterfees is afgesluit met die erediens op die Sondag wat ook gelei is deur ds Danie Murray. Ons kon regtig hierdie naweek die warmte ervaar wat gesprekke met medelidmate oor die uitstorting van die Heilige Gees teweeg gebring het. Die verrigtinge was 'n heerlike belewenis! Volgende jaar maak ons DV weer so!