
Lekker saamkuier deur ons Seniors
Na byna twee jaar van geen aktiwiteite nie was daar op Saterdag 6 November 'n uithaler fees gereël vir die Seniors van die Gereformeerde kerk Pretoria-Annlin.
Die Susters van die gemeente het geen moeite ontsien om die Seniors baie spesiaal te laat voel nie, en die feestelik gedekte ronde tafels, met die pragtige blomstukke in die middel, het dadelik die aandag getrek met die instap in die saal. Hiervoor was Deon en Elize Schlunz verantwoordelik. 'n Geskenkie , 'n vetplantjie in 'n mooi versierde potjie, is vir almal teenwoordig op die tafel gesit.
Smaaklike skaaptjops, pap en sous en heerlike wortelslaai is voorgesit. Sjokolade mousse en roomys het die ete afgerond.
Die seniors wat in groot getalle opgedaag het was uitgehonger vir saamkuier en het lank na hul klaar geëet het nog gesit en gesels. Ons stem heelhartig saam met br Koos Botes dat geleenthede soos hierdie die gemeente opbou.
'n Hartlike woord van dank aan die susters wat van hierdie geleentheid so 'n groot sukses gemaak het.