Na die opheffing van die Covid19 inperkings is die tweedehandse goedereverkopings weer mooi op dreef. Daar is aan die begin van April en Mei 2021 verkopings gehou en sover is daar bykans R6000.00 ingesamel en 29 bybels verkoop. Aan God alleen die eer! Die fondse word aangewend om weer nuwe bybels te koop wat tydens die verkoping teen 'n nominale bedrag van R20.00 per bybel van die hand gesit word. Bybels is in al ons landstale beskikbaar en ook in die Zimbabwiese Shona taal. Saam met die bybels word Heidelbergse Kategismusboekies gratis uitgedeel. Op hierdie wyse is die verkopings tegelyk ook 'n evangelisasieprojek.
Die diensgroep bestaan uit 'n aantal flukse lidmate wat hard werk om eerstens die goedere uit te sorteer en te prys en om dit daarna tydens die verkopings uit te stal en te verkoop. In die winter is dit nog donker wanneer die verkoping om 6vm begin.
Indien julle meer wil weet oor die diensgroep of hierby wil aansluit, besoek asb die diensgroep se webblad by Tweedehandse goedere verkopings.