Ds Giepie het op Vrydag 2 Julie saam met ds Paul Modise en ds Danie Murray met lg se voertuig na Mosambiek vertrek. Gelukkig het die Regering se strenger Covid19 maatreëls slegs reise in- en uit die Gauteng provinsie vir ontspanningsdoeleindes verbied en kon ons dominees met permitte in die hand die Gauteng provinsie verlaat. Al drie het ook gelukkig negatief getoets vir die virus en met sertifikate in die hand kon hulle oor ons landsgrens reis. Ons dank die Here dat Hy hierdie deur vir hulle oopgemaak het.
Dit het 4 dae geneem om die ongeveer 2300km rit na Milange te onderneem. Die pad was op plekke baie sleg maar hulle is sonder enige teëspoed daardeur en het Maandagaand in Milange aangekom.
Dinsdag is daar met verteenwoordigers van die Tumbine Sinode (Sinode van die Gereformeerde Kerk in Noord-oos Mosambiek) gesprek gevoer. Die gesprek het tot in die aandure aangehou en het in 'n mooi en liefdevolle gesindheid plaasgevind. Die Sinode het die Memorandum van Verstandhouding onderteken waarvolgens ons gemeente hulle sal help om een van hulle dominees vir tye van die jaar na onbereikte gebiede te stuur om die Evangelie te gaan verkondig. Die Sinode was ook baie opgewonde oor die 20 oudio bybels wat ds Giepie geskenk het omdat hierdie instrumentjies, benewens die Bybel in Portugees en Lomwe ook die Heidelbergse Kategismus in Lomwe opgelaai gehad het. Die vertaling van die kategismus in Lomwe was een van ons gemeente se projekte.
Woensdag het ds Giepie hulle by die Tezeze gemeente in die Milange omgewing aangegaan om daardie gemeente toe te rus en teen die tyd wat die nuusbrief op Donderdag gefinaliseer moes word, was ons drie dominees tesame met die Moderator en Sekretaris van die Sinode nog op pad na die Kusdorp Pebane. Sien rooi roete op kaart.
Ons is dankbaar teenoor die Here dat hulle reise en werk tot nou toe nog voorspoedig en geseënd was en ons bid dat dit vir die res van die uitreik ook so mag wees. Ds Giepie en ds Paul vlieg DV op 14 Julie vanaf Nampula terug na Suid Afrika en ds Danie sal voortgaan met werk tot einde Julie wanneer hy DV alleen met sy voertuig sal terugkeer.