Ons ken almal die liedjie "Wat maak 'n kamp so lekker... dis koffie, pap en wors!" Nouja, daarvan het ons volop gehad en nog vele meer.
Tydens die naweek van 2-4 September het 'n klompie lidmate van Gereformeerde kerk Pretoria-Annlin saam gekamp net buite Pretoria by De Wildt.
Saterdagoggend het Leanne Venter vir ons onder andere 'n baie interessante fotovertoning en voordrag gelewer oor haar en Alwyn se werk met die rehabilitering en werk met luiperds in die Magaliesberg omgewing.
Later die oggend het Prof Nico Vorster 'n praatjie gelewer oor "Wat het jy?" Die vraag het ons weer diep laat nadink oor ons verhouding met God en hoe ons in en buite die gemeente diensbaar behoort te wees.

Heerlik saamkuier onder die bome
Sondagoggend het ons gedeel in die diens wat elektronies uitgesaai is. Na 'n heerlike "brunch" het almal so stadigaan begin oppak en met 'n trae hart teruggery huis toe.

Gesellig rondom die potte in die lapa
Ons kan nie anders as om terug te kyk na die naweek met 'n lekker gevoel van warmte nie. Nuwe vriendskappe is gevorm, oues is weer versterk en mens kan net hoop dat daar al meer lidmate aan toekomstige kampe sal deelneem.
Dankie Rita en jou span. Julle is staatmakers!