Die hewige storm wat ons op Vrydag 4 Februarie beleef het, het veroorsaak dat die stoorvertrek onder die saal se verhoog vol water geloop het. Die water het verlede Maandag enkeldiepte gestaan in die stoorvertrek wat by ons almal bekend is as die "grot".
Die diensgroep vir die 2e handse goedere verkopings stoor die verkoopsware in die grot en aangesien 'n klomp dose met ware op die vloer gestaan het, moes lede van die diensgroep inspring en red wat daar te redde was.
Die verkoopsware wat nat geword het, is in die vierkant gesit sodat die son dit kon afdroog. Diensgroeplede het van die klerasie huis toe geneem om te was. Die waterprobleem is gelukkig betyds hanteer en omtrent al die ware is gered. Ons wil graag dankie sê vir al die diensgroeplede wat gewillig al hul eie belange eers gelos het om te kom help.