Tydens die geselligheid wat die gemeente gehou het om dankie te sê vir Giepie se dienswerk in die gemeente, het Giepie vir die gemeente vertel dat dit absoluut 'n geloofstap was.
Soos Petrus in opdrag van Jesus op die water begin loop het (Matt 14: 28 & 29) het Giepie ook vir die Here gevra "Here as dit regtig U is wat my roep, sê vir my dat ek moet kom". Giepie vertel dat hy daarna uit verskeie oorde bevestiging gekry het. Ook het Giepie dit baie waardeer dat die gemeente hierdie stap van hom in 'n mooi en rustige gesindheid aanvaar het, en hom ook daarin ondersteun.
Die paar boodskappe van die konsulent en lidmate waar hy bedank is vir sy ywer in die gemeente is afgewissel met pragtige kerkmusiek deur die Viljoen gesin.

Giepie aan die woord
Na die seremonie in die kerk, het die gemeente uitbeweeg na die saal waar die Kerkraad, die Susters en die Sosiale Kommissie 'n besondere onthaal gereël het. Verskillende soorte sop en 'n groot verskeidenheid eetgoed is aangebied. Die kostafel en nagereg tafel het getuig van groot sorg en fyn smaak.
Ons wil graag langs hierdie weg die Kerkraad, die Susters en die Sosiale Kommissie hartlik bedank vir die uitnemende wyse waarop die gemeente hul waardering teenoor Giepie kon betoon. Ons is baie dankbaar dat Giepie, Anneën en hul drie kinders nog steeds in ons gemeente sal aanbly en ons weet dat hulle as lidmate steeds betrokke sal wees by baie aksies.
Giepie word ook in ons gebede gedra vir hierdie belangrike roeping wat hy opgevolg het in gehoorsaamheid aan die roepstem van ons God.