Die gemeentekamp het op Saterdag 28 Oktober afgeskop toe 'n goeie klompie kampers en dagbesoekers by De Wildt 4×4 bymekaargekom het. Na die ontvangs deur die predikantspaar, het almal gesellig saam verkeer totdat die amptelike program begin het met Skriflesing en gebed deur oudl. Andries Leuschner.
Die tema vir die naweek, nl. "Waarom het ons mekaar nodig?" is pragtig voorgedra deur ds. Pieter uit 1 Korintiërs 12 - 14. Die aanbieding het 'n interaktiewe gedeelte ingesluit waar teenwoordiges moes aandui watter deel van die liggaam hulle is. (1 Kor. 12: 15 - 17) Daar was 'n meerderheid "hande" en "voete" wat aangedui het op ons gemeente se bereidheid om vir mekaar te werk. Die aanbieding het afgesluit met 'n gesprek oor die gawes wat die Heilige Gees aan ons saam uitdeel, asook wat dit beteken om prakties saam te ly; en saam bly te wees.
Dit was voorwaar 'n heerlike saamwees waartydens ons mekaar beter kon leer ken en so ook dan mekaar se lief en leed kon ervaar
