Tydens 'n middaggeselligheid het ons gemeente op 24 Junie ons waardering in woord en daad uitgespreek teenoor ds Attie Venter. Hy was vir bykans 23 jaar ons herder en leraar.
Die verrigtinge in die kerkgebou was in die vorm van 'n spesiale huldeblykprogram en boodskappe van waardering is deur verskeie persone gelewer. Die boodskappe is afgewissel met samesang asook instrumentale uitvoerings deur drie lede van ons orrelis se gesin.
Ds Attie het ook 'n geleentheid gehad om te antwoord en in sy antwoord het hy daarop gewys dat sy hele fokus altyd was om as dienaar van die Here op te tree. Hy het daarop gewys dat hy dikwels net so begeesterd en geseënd van huisbesoeke teruggekeer het en dat dit eintlik is waaroor bediening gaan - om mekaar te bedien.

Na afloop van die formele deel van die program het die gemeente na die kerksaal beweeg vir 'n heerlike warm wintersete saam met Ds Attie en sy gesin. Ons gaan hom mis as predikant, maar ons is dankbaar dat ds Attie in ons gemeente gaan aanbly as lidmaat van ons gemeente.